LIGland Episode 3

LIGland, episode 3:

 

 

Ek lees onlangs ‘n interessante artikel oor ons onderwys sisteem op die oomblik en spesifiek hoe dokters en sielkundiges die angs in kinders beleef op die oomblik. Hoe hulle bevestig dat angs in kinders, nie tieners nie, kinders tans die hoogste is in die geskiedenis van die mensdom.

 

Jissie en hierdie werk aan my, ek dink daaroor, lees daaroor en probeer antwoorde kry op al die vrae, want hierdie ding werk aan my. Hoe op dees aarde is dit moontlik dat ‘n 8 jarige kind op anti-angs medikasie moet wees.  Wat kan dan SO erg wees?

 

Ek onthou dat my enigste bekommernis op 8 jarige ouderdom was om te kyk wie van ons maats kan die meeste nartjie skuiwe op een slag in hulle mond in prop. En die wenner was dan soos heavy legit! Op 14 was die grootste angs om seker te maak dat jy betyds “record” druk op die tape speler, sodat jy die week se nuutste top 20 hits op Algoa FM kon opneem. 

 

Wat het dan nou waar verander in die laaste 30 jaar. Ja, natuurlik daar het baie verander maar iets soos ‘n kind se spannings vlakke is nie veronderstel om op ‘n plek te wees waar anti-angs medikasie nodig is op 8 jarige ouderdom nie. Is dit nie dalk tyd vir ons as volwassenes, die kinders van 30 jaar terug, om bietjie intro speksie te gaan doen nie, want êrens moet ons besef dat hierdie nie “normaal” is nie. In my kop, moet alles op 8 jarige ouderdom eintlik net lekker wees, alles moet eintlik net “maklik” wees. En hoor my mooi, hierby bedoel ek nie ons moet alles op ‘n skinkbord vir ons kinders gee nie, maar om soveel druk te plaas dat jy flou val voor ‘n mondeling, dan doen ons êrens iets verkeerd.

 

Ek sit self met ‘n span in my eie huis wat geneig is om baie druk op hulleself te sit en ek en Werner gesels daaroor, want kyk as daar nou een ma is wat nul druk plaas nie, dan glo ek daar wen ek nogal ‘n prys. Ek is geensins kompeterend nie, I just want world peace..  in alles… wat ook seker nie altyd reg is nie, maar hoekom is ons jong generasie dan konstant in “fight or flight” mode?

 

Die naakte waarheid is ongelukkig dat ons in hierdie groter, vinniger, beter wêreld leef. Ek sien dit elke dag in my beroep. Kinders moet vroeer loop, kinders moet vroeer van doeke af kom, kinders moet vroeer, kinders moet vroeer, kinders moet vroeer en vinnger. Hoekom doen ons dit? Almal skryf tog steeds op 18 matriek, ja daar is uitsonderings, maar ons skryf op 18 matriek. Nêrens in die Bybel lees ons… “Jesus was haastig oppad na die volgende wonderwerk”… nee dit was juis die teenoorgestelde.

 

Is hierdie “angs pandemie” dan nie maar grootliks ons visuele wêreld se fout nie. Ons post ons kinders se prestasies op Facebook, ons skryf lang lyste van wat hulle als gedoen het, en ja, weereens talentvolle kinders is talentvolle kinders. Ek dink die vraag is hier, vir wie post ons al hierdie prestasies? Wat is die ware intensie daar agter? En is dit nie juis hoekom ons met ‘n generasie sit wat op angs medikasie is op 8 nie? Net ‘n vraag?

 

Weereens, my beroep as remedierende juffrou is ook seker baie meer ingestel op die maatjie wat sukkel, of die kind wat meer angstig is as ander, maar ek dink tog ons wêreld, en spesifiek ons as opvoeders moet so mooi werk met ons jonger span om seker te maak dat onnodige druk nie bydra tot al hierdie angs issues nie. 

 

Oppad huis toe koop ek sommer ‘n sak nartjies en vanaand prop ons almal ons monde vol om te sien wie die meeste skyfies in ons mond kan druk, want in sulke oomblikke is dit al bekommernis in die wêreld. En dit bly steeds my wens vir my span “to just want world peace”.

 

 

 

 

Comments

Popular posts from this blog

LIGland Episode 1

LIGland Episode 4

LIGland Episode 2