LIGland Episode 2

Episode 2:

 

Mammmmmaaa. “Daai aloe scrub van my is op, sal jy in die 60/60 mandjie sit”. 

Ekskuustog Simon? “Mamma, my aloe scrub is op, sal jy ASSEBLIEF in die 60/60 mandjie sit”. “Als reg boeta, mamma sit in”.

 

In die verby stap in die kombuis kry ek vir Benn voor die yskas. Na ‘n paar sekondes se staar in die yskas hoor ek net. “ Hier is NIKS in die huis nie”. “ My genade seun, NIKS, is jy seker”. “Kyk in die hoekkas, daar waar al die lekkers gebêre word”, “ek het en daar is ook NIKS nie. “Ek sal nou kyk Benn, dan sal ek in die 60/60 mandjie sit.”

 

So gaan dit in die LIGland huis. Almal kort gereeld iets, almal is altyd lus vir iets lekker, seker maar my eie skuld want hulle soek altyd “huis kos”, niks moet uit ‘n blikkie of ‘n pakkie kom nie. “ Mamma, ek kort tippex, die pen een, nie die een wat jy so moet trek nie, as mamma bestel. Ekskuus Katryn, ASSEBLIEF mamma”. Regso sus, ek sit in die mandjie.

 

Ek help so rukkie terug by ‘n skooltjie in Helenvale. Die pragtigste kinders, die ongelooflikste personeel, maar die omstandighede is haglik. Daar is nie hulpmiddels en klimrame en badkamers nie, nee hulle werk met wat hulle het. Ek sien hoe hulle emmertjies uit sit vir die kinders as die nood te groot raak, en die oulikste selfgemaakte karton “deur” as afskorting. Ek sien hoe hulle kunswerkies maak uit afvalmateriaal. Ek sien hoe hulle kinders leer, met liefde. Ek sien hoe hulle dit elke dag doen, sonder enige vergoeding daarvoor, want die klein bietjie “skoolfooie” wat hulle insamel word netso weer terug geploeg in die klasssies in.

 

Die klok lui vir pouse en die kinders stroom uit die klasse uit. Niemand het ‘n kosblik, of ‘n waterbottel nie, maar elkeen beweeg met hulle bordjie na die tannie wat opskep. Die kinders in die hele skool kry elke dag ‘n kossie wat iemand skenk. Of dit nou pap is, of samp is, of sop is, die kinders staan gereed vir hierdie maaltyd elke dag. Hierdie ete is sommige van hierdie kinders se enigste ete, tot môre. En dis hier waar my hart in stukke breek, want ‘n kind wat honger is, is my einde.

 

Here ek sukkel, dis kinders, nie een van hulle het gevra om in hierdie omstandighede te wees nie, nie een van hulle verdien om in hierdie omstandighede te wees nie. Ek sukkel. 

 

Ons stap verder deur die perseel, en orals is die kinders gelukkig. Almal lag, almal speel, met mekaar, met stokkies, met handgemaakte toue, met klippies, enige iets, maar hulle speel… soos kinders moet speel.

 

Ek vra vir die skoolhoof, hoe kan ons help? Waarvan sal die kinders baie hou? “Ooooo juffrou klei en poppe, hulle ken dit nie, hulle sal dit so geniet”. En weer is ek so verstom. Dis nie die duurste items, maar dis “speelgoed”. “Regso, ek sal kyk wat ons kan doen. Ek maak sommer klei, dit werk altyd goedkoop uit.”

 

Later toe ons daar weg ry begin die worsteling hier in my binneste. “Here ek sukkel, ek verstaan nie hierdie “onregverdige” wêreld waarin ons lewe nie. En ek begin die pad stap met hierdie wroeging. 

 

Ek dink ‘n mens se eerste reaksie is dadelik hoe kan ek die probleem oplos, hoe kan ek dit beter maak? Maar Here hierdie is ‘n astronomiese probleem, dis nie klein probleempies die nie. Waar begin mens? En die Here kom sê baie duidelik, Lanie begin by jouself, begin by jou eie gesin. Leer jou eie kinders om tevrede te wees met wat hulle het, leer jou eie kinders om nie die “pen tippex” te hê nie, maar jy het darem kos om te eet, is eintlik goed genoeg. Dis nie ‘n maklike waarheid om te aanvaar nie, maar dis die waarheid. En weereens hierdie is niemand se “skuld” nie, hierdie is deel van ons lewe, hierdie is deel van die harde realiteite.

 

Ons almal sit die aand om die etenstafel en ek vertel vir hulle almal van my dag se ervaring en wat ek als gesien het. Dadelik kan ek sien “die liggies gaan aan”. “Sjoe mamma, dis rof.” En net soos ek gedink het die reaksies gaan wees, “mamma wat kan ONS doen”. “Benn, ons begin hier in ons huis, ons waardeer wat ons het en ons deel as ons meer as genoeg het.” Daarna sal mamma kyk met wie ons kan gesels om hierdie maatjies te help, ja dis dalk ‘n druppel in die emmer, maar met elke druppel kom die emmer tog vol.

 

In die LIGland huis bid ons vanaand vir almal wat minder het as ons, vir kinders wat vanaand honger is, ons bid vir bonatuurlike wonderwerke en vertrou dat Jesus ons harte ken en weet dat ons so graag ‘n verskil wil maak al is dit nie altyd moontlik nie. Tot dan fokus ons maar weer op “asseblief en dankie” en om tevrede te wees met die “back up” wat die 60/60 oom afgelwer het, want die pen een was uit voorraad!

 

Comments

Popular posts from this blog

LIGland Episode 1

LIGland Episode 4